BMW Motorrad Mbombela, vroeër bekend as Eastview Motorrad in Nelspruit, is deur BMW Motorrad SA aangewys as die wenner in die kategorie vir nuwe voertuigverkope vir 2019.
“Mbombela Motorrad het die kategorie vir nuwe voertuigverkope gewen, maar hulle het ook deurlopend goed gedoen met naverkoopdiens en klantetevredenheid,” sê Edgar Kleinbergen, hoof van BMW Motorrad in Suid-Afrika.
Shaun Brown het as bestuurder van die motorfietshandelaar oorgeneem in Desember 2019. Hy sê hy het nie ’n spesifieke resep vir sukses nie, maar hy is gesteld daarop om sy werk goed te doen.
“Ek het regtig ’n passie vir wat ek doen,” sê Shaun. “Ek is vasbeslote om my werk so goed as moontlik te doen. Ek wil sukses behaal en ’n naam maak vir myself. Ek hou baie daarvan om met mense te skakel en ek is mal daaroor om iemand se motorfietsdroom te laat waar word.”


Maar die toekenning is nie die enigste bewys van sy sukses nie.
“Ons het verlede jaar ook meer Rnine-T-modelle verkoop as wat BMW Motorrad SA verwag het, en daarom word ons handelaar binnekort uitgerus as ’n Heritage Highlight-handelaar,” vertel Shaun.
“Dit beteken ’n deel van ons vertoonkamer gaan gewy word aan die erfenis van BMW Motorrad.”
Net vier handelaars in Suid-Afrika kry hierdie eer.
“Ingesluit daarby is ’n nuwe reeks klere en valhelms vir die klant wat belangstel daarin om ’n Rnine-T te koop. Teen die derde of vierde kwartaal van die jaar sal ons ook die nuwe R18 op ons vloer hê, wat die erfenis-aanbieding verder sal uitbrei.”
Hy dink die R18 gaan die mark verras.
“Met my vorige ondervinding by Harley-Davidson en die cruiser-mark, dink ek hierdie fiets gaan dalk ’n duik maak in die tradisionele Amerikaanse mark.”
Gaan maak gerus ’n draai by Mbombela Motorrad om vir Shaun hallo te sê. Hy maak nogal ’n goeie koppie koffie.