Net voor die inperking ons platgeslaan het, het Triumph aangekondig dat hulle motorfiets-met-die-grootste-produksie-enjin terug is met ’n groter grootste-produksie-enjin in die wêreld, skryf Réhann Coetzee.

Triumph se Rocket III was sonder twyfel die wildste cruiser wat ons nog gesien het Maar die Rocket III is in 2004 bekendgestel en het maar min verander teen die tyd dat produksie in 2016 gestaak is.

Alhoewel cruisers nou nie juis bekend is as tegnologiese wonders nie, het die Rocket bietjie lank in die tand geraak.
Die ontwerpers in Hinckley het hulle tekenboeke nadergetrek en begin werk aan die volgende weergawe van die bul van ’n fiets.

Om hierdie klas te herdefinieer, het Triumph die vorige grootste enjin in ’n produksiefiets vervang met ’n groter grootste enjin in ’n produksiefiets. Waar daar vroeër ’n 2,3-liter enjin gesit en brul het, is daar nou ’n 2,5-liter enjin. Dis ’n Triumph, so dis steeds ’n “trippel”.


Die 123kW wat die nuwe enjin uitskop is niks om oor skaam te wees nie, maar die wringkrag van 221Nm is genoeg om groot manne se oë te laat traan.

Die Rocket III se ontwerp het nie noodwendig jou hart laat vinniger klop nie, maar die Rocket 3 se ontwerp sal wel. Twee LED-hoofligte en ’n pragtige herontwerpte uitlaatspruitstuk trek dadelik jou aandag. Die passasier se voetpenne is basies onsigbaar wanneer hulle weg gevou is en die allooiwiele het 20 speke.


Die Rocket 3 weeg 40kg minder en selfs met soveel wringkrag sal dit ’n reuse verskil maak. Waar die Rocket III dalk bietjie van ’n 14-pond hamer in ’n restaurant was, is die Rocket 3 ’n baie groot ystervuis in ’n elegante fluweelhandskoen. Die Showa-vering kom byna van ’n ander planeet af en bied agter ’n verstelbare enkel skokbreker en 47mm verstelbare vurke.


Die Brembo Stylema-skyfremme bied nie net beter remvermoë nie, maar ook beter akkuraatheid wanneer die monster moet stop. Die nuwe ontwerp laat ook meer lugvloei rondom die remme toe en dit laat die remme vinniger afkoel. Die sluitweer-remstelsel het ook nou die funksionaliteit waar remkrag vir die ryer se veiligheid aangepas word vir die hoek waarteen die fiets leun. Die wieltolbeheer is ook verbeter met dieselfde funksionaliteit.

Die Rocket 3 R se stuurstang is meer in die styl van ’n roadster en die Rocket 3 GT s’n is ontwerp vir toer. Albei modelle se sitplekke is herontwerp en die passasiersitplekke kan afgehaal word. Die Rocket 3 R se sitplek is 773mm hoog en die Rocket 3 GT s’n is ’n selfs nog laer 750mm. Die GT het ook ’n aluminium rugstut.


Die Rocket 3 se voetpenne kan verstel word. Die Rocket 3 R se voetpenne sit in die middel van die fiets (soos dit hoort), en kan 15mm laer gestel word. Die Rocket 3 GT se voetpenne sit aan die voorkant van die fiets, soos ’n cruiser s’n tradisioneel sou wees. Hulle kan 25mm vorentoe of 25mm agtertoe verstel word. Die passasier se rugstut kan ook hoër gestel word.

Daar is natuurlik geen vergelyking tussen die Rocket 3 en sy voorganger se instrumentasie nie. Die nuwe fiets het Triumph se tweede generasie TFT-instrumente waarvan die uitleg verstel kan word om jou smaak te pas.

Albei modelle het vier ry-modusse: Road, Rain, Sport en Rider, wat meer spesifiek deur die ryer opgestel kan word. Beide modelle het ook Triumph se Hill Hold Control wat help wanneer teen ’n opdraande weggetrek moet word.
Spoedbeheer help om nie op die lang pad in die moeilikheid te raak met spoedboetes nie.

Selfone kan gelaai word met ’n USB-laaifunksie onder die sitplek.

 
Die Rocket 3 R is in twee kleure beskikbaar: ‘n wynrooi (Korosi Red) en Triumph se bekende Phantom Black.
Die Rocket 3 GT is in twee kleure beskikbaar: silwer ys en stormgrys met ’n wynrooi penstreep, en Phantom Black.