Ons het in 2018 op die plaaslike motorfietsskou al ’n prototipe gesien, maar al wat duidelik was, was dat ons nog lank gaan wag om die regte T7 te sien.

Wel, dis nou tyd. Of dan, amper daai tyd. Die Ténéré 700 se geboorte het amper soveel opgewondenheid veroorsaak soos die van die Africa Twin. En, net soos met die Honda, het die lang gewag opgewondenheid dalk bietjie laat taan.
Ténéré beteken woestyn in Berber, ’n taal wat in Noord-Afrika gepraat word.
Die Ténéré-naam is legendaries – net soos die Africa Twin s’n. Dis ’n naam wat herinneringe aan die (oorspronklike) Paris-Dakar-ren optower.
Ek onthou hoe die eerste Ténéré 600 met sy reusagtige petroltenk in die dorp aandag getrek het. As skoolseun was ek verstom dat iemand met so ’n reuse fiets in die veld sou wou jaag…
In 1989 het Yamaha die 750 Super Ténéré bekendgestel. Met die groter enjin was hoër spoed moontlik en die legendariese Stéphane Peterhansel tussen 1991 en 1998 sewe keer die Dakar gewen.
Daarna het Yamaha stiller geraak met dié model.


In 2008 het Yamaha weer die Ténéré-naam gebruik vir ’n nuwe avontuurfiets met die betroubare 660cc enkelsilinderenjin. Ek het altyd gereken die fiets is nie genoeg waardeer vir wat hy alles bied nie. Die verkoopsyfers was ook nie juis fantasties nie en ek het altyd gewonder daaroor. My persoonlike mening is dat die prys te hoog was in ’n mark waar die Ténéré met die nuwe BMW F800 GS moes meeding, ’n moderne fiets met twee silinders.
In 2010 het Yamaha die mark effens geruk met die bekendstelling van die Super Ténéré, ’n avontuurfiets met ’n 1 200cc-enjin en ’n dryfas. Dié “Super Ten” het besondere waarde vir geld gebied in ’n mark wat deur die BMW R1200 GS oorheers is. Die enigste kompetisie was die KTM 990, wat swaar op brandstof was en nie so gemaklik soos die ander twee nie.
Ongelukkig het die Super Ténéré bitter min verander in die afgelope 10 jaar, maar dit bied steeds ongelooflike goeie waarde vir jou geld.
Die fokus van die Ténére 700 is meer op ernstige vrotpad as sy voorganger. Die enjin is al gebruik in die MT07-padfiets. Dis ’n tweesilinder met ’n kruisvlak-krukas (crossplane) met ’n 270-grade vuurpatroon. Die enjin se kraglewering is basies dieselfde as in die MT07, maar ratverhoudings is natuurlik aangepas vir vrotpadwerk.


En die Ténére 700 is ontwerp met ernstige vrotpad in gedagte. Die fiets het ’n minimum grondvryhoogte van 240mm en die sitplek sit 875mm van die grond af. En alhoewel Yamaha sê dat die raam agter voorsiening maak vir bagasie “of ’n passassier”, voorspel ek dat min mense agter op daai sitplek sal sit wat nogal aan ’n strykplank herinner.
Oor hoe die ratkas geposisioneer is, is die enjin redelik kort van voor tot agter. Yamaha sê die veringstelsel is “avontuur-gereed”. Dit word onderstreep deur die 21-duim en 18-duim speekwiele.
Die wind- en handskerms behoort te help om die weer en ergste goggas uit jou tande te hou. Die instrumentpaneel stel effens teleur. In vandag se mark moet dit meer as net funksioneel wees.


Yamaha kon nog nie sê hoeveel die Ténéré 700 gaan kos nie, maar ek dink nie kopers moet kleingeld verwag as hulle R200 000 op die toonbank sit nie. Die fiets behoort van Oktober af by jou naaste Yamaha-handelaar te wees.