Toe Triumph in 2010 hulle nuwe Tiger 800 bekendgestel het, het ek die gewaagde uitspraak gemaak dat dit die beste middelslag-avontuurfiets op die mark was. Toe die tweede weergawe in 2014 bekendgestel is, het daardie indruk versterk, skryf Réhann Coetzee.

Intussen dink ek die BMW F850 GS het heelwat ingehaal, maar ek moet erken ek het nog nie met een anders as teerpad gery nie. KTM se 1090 en 790 bied ook sterk kompetisie.
Die 800 is nou vervang deur die 900 en, soos die modelnaam wys, is daar onder andere ’n nuwe enjin betrokke. Die 800 het 799cc verplaas en die nuwe 900 verplaas 888cc. Interessant genoeg is die nuwe enjin se kraglewering basies dieselfde met 70kW, maar teen ’n laer enjinspoed (8 750opm in plaas van 9 250).
Maar die wringkrag is ’n ander storie: die 87Nm teen 7 250opm (400opm laer) is 10% hoër as die 800 s’n. En alhoewel ek nog nie my been oor die 900 se saal gegooi het nie, glo ek dit gaan ’n groot verskil maak aan hoe die enjin op die vrotpad reageer. Laer enjinspoed oor die algemeen behoort ook beter brandstofverbruik te gee.


Die Tiger 900 kom in vyf modelle – Tiger 900, Tiger 900 GT, Tiger 900 GT Pro, 900 Rally en 900 Rally Pro – maar Triumph Suid-Afrika gaan net die twee top modelle invoer. Die Rally Pro het speekwiele en ’n 21-duim voorwiel. Die GT Pro het allooiwiele en ’n 19-duim voorwiel.
Die GT Pro se vering is verskaf deur Marzocchi en die agtervering is elektronies verstelbaar. Die ryer kan uit nege vlakke van dempbeheer kies (van Comfort tot by Sport) en vier verstellings vir gewig.


Al die modelle se remme word deur Brembo verskaf wat blykbaar ook ligter is en vinniger rem-aksie lewer. Verbeterde lugvloei rondom die remme laat dit ook vinniger afkoel. Triumph reken die verbeterde remme en die fiets se raam en enjin wat ligter is as die 800 s’n, maak dat die 900 baie beter hanteer en rem in alle omstandighede.
Die sitplek is smaller en die stuurstang is 10mm nader aan die ryer, wat lang ritte gemakliker maak.
Die Rally Pro het ses ry-modusse (Rain, Road, Sport, Off-road, Off-road Pro en Rider, wat meer spesifiek deur die ryer opgestel kan word) en die GT Pro het vyf (Rain, Road, Sport, Off-road en Rider).
Die Rally Pro het Showa-vering wat heelwat meer beweging toelaat, soos wat verwag sal word van ’n fiets wat jeuk vir vrotpad. Vering voor en agter is verstelbaar (nie elektronies nie) en laat 240mm se beweging voor toe en 230mm agter.


Die 900 is ook heelwat ligter as sy voorganger. Die Rally Pro (wat die opvolger van die XC-model is), weeg nou 201kg met ’n leë brandstoftenk teenoor die 800 XC se 215kg. Die GT Pro (wat die XR-reeks opvolg) weeg net 194kg teenoor sy voorganger. Saam met die 900 se wringkraglewering, is dit maklik om Triumph se bewering te glo dat die 900 Tiger die beste versnelling in sy kategorie het.
Die 900 se brandstoftenk is ook een liter groter as die 800 se 19 liter.
Die TFT-instrumentpaneel wat nuut was op die 800, is herontwerp vir die 900 en het nou Bluetooth-funksionaliteit en navigasie, musiek en selfs jou aksiekamera kan nou so beheer word. Daar is ’n veilige bêreplek vir jou selfoon onder die sitplek met ’n 5-volt USB-laaigerief.


Al die ligte op die nuwe Tiger 900 is LEDs en herontwerp. Die Pro-modelle het ook LED-misligte. Die skakelaars op die stuurstang is almal van agter verlig, wat dit makliker sal maak om in die donker die regte knoppie te druk.
Die 900 het ook die Triumph Shift Assist-snelwisselaar wat die ryer laat ratte verander sonder om die versneller toe te maak of die koppelaar te gebruik.


Die sluitweer-remstelsel het ook nou die funksionaliteit waar remkrag vir die ryer se veiligheid aangepas word vir die hoek waarteen die fiets leun. Die wieltolbeheer is ook verbeter met dieselfde funksionaliteit.
Vir die korter ryers is daar weer ’n opsie om ’n fiets met ’n laer veringstelsel te bestel, maar net vir die GT Pro.

 
Die Rally Pro, wat ek voorspel die gewildste verkoper sal wees in ons mark, is in drie kleure beskikbaar: ’n mat-kakie, saffier-swart en wit (Pure White).
Die GT Pro is ook in drie kleure beskikbaar: ‘n wynrooi (Korosi Red), saffier-swart en wit.
Die nuwe Triumph Tiger 900 Rally Pro en GT Pro is reeds beskikbaar by die Triumph SA-handelaar in Sandton en binnekort ook in Kaapstad, waar daar ’n nuwe Triumph-handelaar sy deure gaan oopmaak.