Die Association of Motorcycle Importers and Distributors (AMiD) is in 1981 gestig om die motorfietsbedryf te verteenwoordig in onderhandelinge met die regering oor standaarde met betrekking tot die invoer en verkoop van motorfietse.

“AMiD hou ook statistieke van nuwe motorfietsverkope by uit syfers verskaf deur AMiD-lede en ook data wat aangekoop word uit die eNaTIS-stelsel,” sê Arnold Olivier, direkteur van AMiD. “Dit gee ’n redelike duidelike idee van die stand van die mark.”
Ons het vir Arnold gevra hoe gaan dit met die motorfietsbedryf.

“In die 2019-kalenderjaar het ons 20 963 nuwe motorfietse verkoop. Dit is 4,7% meer as 2018 se 20 016 eenhede.

“Verkope in die segment vir aflewerings-tipe motorfietse het met 17,5% toegeneem. Daarteenoor het verkope van motorfietse in die ontspanningsegment met 10% afgeneem. Omdat dit duurder motorfietse is, is handelaars se wins in rand-terme groter in hierdie segment.

“Vierwielfietse se verkope is 9% laer.”

Hy sê die neiging na goedkoper motor-fietse afkomstig uit China is ook duidelik.

“Mens kry ook die indruk dat daar heelwat meer afleweringsmotorfietse op die pad is, veral in die kitskosbedryf. Alhoewel dit ’n positiewe teken is, is die winsmarge op kleiner motorfietse baie laag in rand-terme, ook met nadiensverkope.”

Hoe doen die mark nou met die swaard van Covid-19 oor almal se koppe?

“Gemiddelde verkope per maand vir die eerste helfte van 2020 was 1 526 eenhede, vergeleke met 1 747 in die eerste helfte van 2019. Maar ons kon vir ses weke nie handel dryf nie.

“Dit wil lyk of die inperking die vraag na afleweringsmotorfietse verhoog het oor die vraag na aflewering van verbruikersgoedere, gedryf deur die Covid-19-pandemie. Maar ek dink nie dit is volhoubaar nie.

“Die res van die bedryf het ’n vertraging ervaar in die bekendstelling van nuwe modelle. Die beskikbaarheid van hierdie nuwe motorfietse het nou ook heelwat opwinding en verkope veroorsaak.”

Hy sê die inperkingstydperk het ’n groot invloed gehad, ook op die verkope van onderdele en die verskaffing van dienste.

“Die inkrimping in die duurder segment is kommerwekkend, want die waarskynlike uitwerking van die Covid-19-pandemie gaan die verbruiker se gewilligheid en vermoë om geld op luukshede te bestee oor die mediumtermyn beïnvloed.”

www.amid.co.za