Die vriendelike mense by BMW Motorrad het onlangs die nuwe R18 bekendgestel en hulle sê dis ’n uitmuntende cruiser met geskiedkundige wortels.

Die R18 is BMW se eerste ware poging om die cruiser-mark aan te durf. BMW sê dat die R18 geheel en al in die tradisie van historiese BMW-motorfietse staan – tegnies en ook in terme van die ontwerp.
BMW se mediaverklaring sê die fiets se ontwerp leen van bekende modelle soos die R5 – tegnologies en visueel. Dit skuif die fokus glo terug na die essensie van motorfietse: puristies, tegnologie sonder tierlantyntjies en natuurlik die boxer-enjin as die episentrum van ry-plesier.


Maar dit bly ’n BMW, daarom is dit dalk ’n bietjie hoogdrawend om te sê die R18 se tegnologie kom sonder tierlantyntjies. Drie ry-modusse is nie regtig ’n baie basiese – of klassieke – element nie. LED-ligte ook nie. Maar ek glo egter dat BMW waarskynlik korrek is as hulle sê dat hulle hier ’n fassinerende konsep beet het wat ’n ry-ervaring bied wat net so gekultiveerd as emosioneel is.


Die hart van die R18 is die nuut-ontwerpte boxer-enjin, die sogenaamde Groot Boxer. Die lug- en waterverkoelde enjin lyk asof dit in die 1950s ontwerp kon gewees het. En BMW voel die enjin se voorkoms en tegnologie sit die tradisie van ’n inspirerende ry-ervaring wat sedert 1923 kenmerkend is van die handelsmerk voort.


Die grootste boxer-enjin wat nog in ’n produksiemodel gebruik is, het ’n suierverplasing van 1 802 cc. Die kraglewering sal jou nie noodwendig bang maak nie, maar daar is 150 Nm se wringkrag is reeds beskikbaar van 2 000 opm af. Die 67 kW (91 perde in die ou taal) word uitgeskop teen 4 750 opm. Die 158 Nm word ontwikkel teen 3 000 opm, maar 150 daarvan is nog beskikbaar teen 4 000 opm. Soos mens sou verwag van so ’n groot twee-silinder, sê BMW die enjin maak ’n baie mooi lawaai – nie te hard nie, maar baie resonant. Die enjin se ontsteking beperk die enjinspoed tot ’n maksimum van 5 750 opm.


Interessant vir ’n regte cruiser, sit die voetpenne in die middel van die fiets, en die ryer hoef nie met sy of haar bene vooruitgestrek te sit nie. Dit sal die R18 waarskynlik makliker maak om te hanteer in die verkeer en wanneer die draaie skerper raak.


Dit lyk of die fiets ’n sogenaamde “rigid” is, wat sou aandui dat daar geen agterste vering is nie. Maar dit bly ’n BMW, so daar is vering vir die agterwiel en dit is verstelbaar – maar nie elektronies nie.
Soos vroeër genoem, het die R18 drie ry-modusse. Daar is die gewone een vir reëntoestande (Rain) en dan “Roll” en “Rock”. “Roll” is basies die standaardverstelling en “Rock” maak die keel ’n bietjie oop en die wieltolbeheer meng minder in.


Die fiets het wieltolbeheer wat afgeskakel kan word en die nuwe groot boxer het ook wat BMW noem “engine drag torque control” (MSR). Dit keer dat die agterwiel begin hop as daar te aggressief afgerat word – basies ’n glipkoppelaar.
Soos in die K1600 GTL, is daar ’n trurat wat dit makliker sal maak om die 345kg fiets in die parkeerarea rond te skuif. BMW se Hill Start Control sal help met wegtrek teen bulte.


Soos in die foto’s gesien kan word, is die R18 se ontwerp klassiek van ’n cruiser – behalwe vir die voetpenne se plasing. Daar is baie chroom saam met swart en BMW het ’n ouer, klassieke, weergawe van die handelsmerk se wapen gebruik op die petroltenk. Die speekwiele en die vurke met die vering in buise soos gebruik in die R5 van 1936, dra by tot die cruiser-ontwerp.
Die R18 behoort teen September of Oktober by ’n BMW Motorrad-handelaar naby jou beskikbaar te wees.