HARLEY-DAVIDSON STREET ROD 750

Koop vir jou ’n leefstyl


Ek het laas met die baba Harley-Davidson, die Street 750, gery tydens die 2015 Motorfiets van Die Jaar, skryf Réhann Coetzee.


Alhoewel ek gedink het dit was baie slim van Harley om ’n meer bekostigbare, ligter fiets by hulle modelreeks te voeg, was die afwerking ’n teleurstelling. Die remme het ook vir een oomblik van onbeplande opwinding gesorg.
Maar my ry-indruk van die Street 750 is irrelevant want, soos ek voorspel het, is dit ’n reuse verkoopsukses vir die manne van Milwaukee.

Niemand verkoop ’n lewensstyl so goed soos Harley-Davidson nie en met die Street 750 (en Street 500 in ander markte) het hulle daardie lewenstyl vir nog meer mense toeganklik gemaak.
Die Street Rod is die nuutste toevoeging tot die Street-reeks en hierdie is duidelik die wilder boetie. Harley-Davidson sê dit is die ratsste van hulle fietse en dis maklik om te glo, want teen 238 kg is hy nog steeds 20 kg ligter as die 883 Sportster. Die rede vir die beter hantering is dat die vurk se hoek van die gewone Street se 32 grade verminder is na 27 grade.

Die hoë-verrigting Revolution X-enjin lewer 18% meer krag, maar ek kon nêrens uitvind wat dit presies beteken nie. Harley gee net die wringkrag-syfer en teen 65 Nm is dit 8% hoër. Die enjin se maksimum omwentelinge is verhoog van 8 000 na 9 000 opm en die kompressie-verhouding is verhoog na 12,0:1 – van ’n reeds hoë 11,0:1.

Die agterwiel is nou ook 17-duim groot, teenoor die Street se 15-duim. Die voorwiel het nou dubbelremskywe, wat ’n baie groot verskil behoort te maak in remvermoë.

Die ontwerp van die Street Rod is duidelik baie agressiewer en herinner aan die XR1200-weergawe van die Sportster van 2009. Die indruk van ’n wilder fiets word verder beklemtoon deur ’n herontwerpte windskermpie en spieëltjies wat op die punte van die stuurstang gemonteer is.


Teen R115 000 bied die Street Rod 750 steeds goeie waarde vir toegang tot die aantreklike Harley-Davidson leefstyl.